Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 21 OKTOBER 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of dmv. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is Johan, ZS6JPN, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400, 14,235, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 28,235, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

SARL-HMO-BAKENPROJEK DINSDAG OFFISIEëL GELOODS

KONSEP KLT-STANDAARDE SAL NA DIE OKOSA-RAAD GAAN

HIERDIE WEEK IN TEGNOLOGIE

NOMINASIES VIR SARL-RAADSLEDE INGEWAG

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL-HMO-BAKENPROJEK DINSDAG OFFISIEëL GELOODS

Die SARL-MH—bakenprojek sal offisieël op Dinsdag 23 Oktober geloods word wanneer die eerste baken by die Nasionale Amateurradiosentrum aangeskakel sal word. Gedurende die eerste fase van die projek sal dertig bakens in strategiese plekke oral in die land geplaas wees. Die bakens word gehuisves by lede van die Suid-Afrikaanse Radioliga en sal op 7 023 kHz uitsaai. Elke baken sal GG teen ongeveer 8 wpm in die volgende formaat, soos byv. vir ZS6SRL, uitstuur: “VE ZS6SRL BCNLOC KG33WV” en ‘n kort boodskap wat gevolg sal word deur ‘n aantal lang seine in ooreenstemming met die roepseinafdeling. Byv. indien die baken in afdeling 6 geleë is, sal dit ses lang seine wees. Dit sal gevolg word deur vier kolletjies vir S-meterlesings. Die S-metersein verander in krag van 40 mW tot 5 mW in vier stappe. Die doel hiervan is om rapportering deur studente, wat nie in besit is van stelle met S-meters nie, te vergemaklik.In dien hulle vier kolletjies hoor, is dit 59, indien twee gehoor word, is dit 52 ens.

Die kort boodskap sal in ‘n kompetisie vir leerders gebruik word. Finale besonderhede word uitgewerk en sal aan die begin van die 2008 skooljaar bekend gemaak word.

‘n Volledige beskrywing van die bakenprogram is op die SARL se webtuiste beskikbaar.

KONSEP KLT-STANDAARDE SAL NA DIE OKOSA-RAAD GAAN

Die Standaarde Skakelkomitee (SSK) het verlede week die konsep, tussentydse 1 Kraglyntelekommunikasiestandaarde vir Suid-Afrika goedgekeur. Die SSK het het ooreengekom dat slegs Klas B perke as die minimum vereistes van toepassing sal wees. Die Klas B perk vir geleide steurings is so 10 dB strenger as Klas A. Die KLT-industrie het gevra dat Klas A vereistes in industriële gebiede van toepassing sal wees, en ook by substasies, ‘n versoek wat deur die SARL in die komiteestadium geopponeer is.

Die SARL is egter nie tevrede dat verpligte keping van HF-amateurbande nie in die konsepstandaarde, wat nou deur OKOSA oorweeg sal word voordat dit in die Staatskoerant, vir kommentaar gepubliseer sal word, ingesluit is nie. By die kommentaarstadium sal die SARL verdere vertoë rig en dokumentasie voorlê ter ondersteuning vabn die SARL se standpunt dat alle HF-amateurbande uitgekeep moet wees en dat die 10 dB keepvlak na ‘n hoër waarde verhoog moet word.

Die tussentydse KLT-standaarde sal van krag bly totdat op internasionale standaarde ooreengekom is. Een van die argumente wat die SARL voorhou is dat die tydelike KLT-standaarde gebaseer is op die FCC-perke en dat installasies wat nou goedgekeur word moontlik nie aan die finale internasionale standaarde sal voldoen nie. Die hoofstruikelblok in die pad van internasionale standaarde is ooreenstemming oor die steuringsperke en die toetsmetodes. Baie Europese rolspelers aanvaar nie die FCC-perke as voldoende nie.

MOENIE UITGESLUIT WORD VAN RADIO ZS, DIE QSL-BURO EN ANDER DIENSTE NIE

U kan maklik uitgesluit word van Radio ZS, die QSL-buro, toegang tot die afdeling vir lede alleen op die webwerf en ander dienste indien jou ledegeld vir 2007/2008 nie voor 31 Oktober betaal is nie. Hierdie is ‘n vriendelike herinnering aan luisteraar wat vergeet het om hulle verpligting na te kom. Dit is maklik om ‘n rekening te verlê en daarvan te vergeet! Dit is waarom herinnerings gepos word. Indien u vereffening hierdie bulletin voorafgegaan het, vergeet van die herinnering, indien nie, doen asb. ‘n elektroniese oordrag vandag nog of pos ‘n tjek aan die SARL.so gou as moontlik. Indien u nognie ‘n lid is nie, is dit nie te laat om aan te sluit nie. Volledige besonderhede is beskikbaar op www.sarl.org.za.

HIERDIE WEEK IN TEGNOLOGIE

Twee digitale modusse JT2 en JT4 word ondersteun deur ‘n eksperimentele uitgawe van die populêre WSJT sagteware vir swak seine. Beide is ontwerp om QSO’s te bewerkstellig onder uiters swak seintoestande terwyl gebruik gemaak word van dieselfde boodskapstruktuur en bronenkodering as wat in JT65 gebruik is.

Die nuwe modus, genaamd JT2, het ‘n bandwydte van slegs 8,75 Hz wat dit moontlik maak dat dosyne kontakte kan plaasvind in die 2,4 kHz ESB standaard filterbandwydte waarmee hedendaagse sendontvangers toegerus is. Die stelsel gebruik ‘n tweetoon frekwensieskuifsleutelingmodulasie vir sinchronisasie en BPSK vir die ge-enkodeerde gebruikersinligting. Op hierdie manier kan beide ‘n sincgreep en datagreep met elke kanaalsimbool gestuur word. Simbole word teen ‘n datatempo van 4,375 baud gastuur en toonskeiding vir die tweetoon-FSS-modulasie is 4,375 Hz.

Die prestasie van JT2 mag uiteindelik so goed soos die van JT65 wees, of effens beter teen 144 MHz en laer. Indien dit verbeter kan word om tot by sy potensiaal te kan werk, kan JT2 van groot hulp wees vir lukrake A-M-A-bedryf op 2 meter, veral vir diegene sonder panoramiese wyebandontvangers en sagteware soos MAP 65. JT2 mag ook aantreklik wees vir gebruik op baie lae frekwensies, medium frekwensie en hoë frekwensie onder swakseintoestande.

JT4 is soortgelyk aan JT2 behalwe dat dit viertoonfrekwensieskuifsleuteling gebruik. Dit so, kan dit ook beide ‘n sincgreep en datagreep in elke simbool insluit. Weereens is die sleutelspoed 4,375 baud en ‘n aantal verskillende toonspasiërings word aangebied.

Verdere inligting aangaande JT2 en JT4 is aanlyn beskikbaar. Gaan na www.sarl.org.za, klik op publikasies en kies ARMI vir koppelings na die webblaaie van WSJT.

NOMINASIES VIR SARL-RAADSLEDE INGEWAG

Nominasie vir SARL-Raadslede word ingewag tot 30 Noivember.

Raadslede moet oor sekere vaardighede beskik sowel as ‘n passie om amateurradio in Suid-Afrika te verbeter en te ontwikkel. Ons is gelukkig dat ons sulke raadslede het maar hulle moet van tyd tot tyd van hul posisie in die Raad afstand doen weens familie-omstandighede, werkverpligtings of omdat hulle net ‘n breek benodig ten einde amateurradio te bedryf. Nuwe raadslede kom met nuwe idees en dit is ook nodig.

Ons moet vir die toekoms beplan en dit is nodig dat die toekomstige President vir ‘n aantal jare op die Raad dien ten einde die nodige ondervinding vir presidentskap op te doen.

Diens op die Raad is ook ‘n uitstekende manier om vertroud te raak met die werking van die beherende instansie vir amateurradio in hierdie land.

Lede van die SARL word versoek om persone te nomineer wat hulle dink oor die nodige vaardighede beskik vir posisies soos President, Visepresident, Sekretaris en Tesourier van die SARL of enige van die ander belangrike portfolios. Die sluitingsdatum is 30 November. Indien u meer wil lees aangaande die verskeie porfolios van die SARL-Raad, besoek www.sarl.org.za, klik op “services”, kies “council” en dan “Councillor Portfolios”. Jy moet net ‘n portfolio vind wat jou interesseer.

Nominasie moet ‘n beknopte amateurradio verwante CV van nie meer as 200 woorde nie, insluit, moet deur die nomineerder en sekondant onderteken wees sowel as ‘n onderneming van die genomineerde dat hy sy nominasie aanvaar en bereid sal wees om op die Raad te dien, indien hy of sy verkies word.

KLUBNUUS

Die Overberg Amateurradioklub, ZS1OAR, in samewerking met die Hermanus Magnetiese Observatorium, ZS1HMO, beplan ‘n ope dag om die aktiwiteite van die HMO aan die algemene publiek in Hermanus bekend te stel.

U word uitgenooi om die HMO gedurende die oggend van 27 Oktober te besoek of om op die lug te kom en met van die lokale amateurs te gesels.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal stil wees behalwe gedurende 26 Oktober wanneer lae stormvlakke verwag word. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Met somer in die lug is die DX toestande ook gelukkig bietjie meer rooskleurig, veral die Noord-Suidpaaie.

15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 10, 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van 20 m-openinge na Australië vanaf 06:00.

Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike 10, 15 en 20 m-openinge na Europa. Vanaf ongeveer 20:00 is daar moontlike 15, 20 en 80 m-openinge na die VSA.

Vir die morsekode- en digitale entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik gaan toestande gedurende die dag op 40 m goed wees en selfs 30 m behoort goed oor die langer afstande te werk.

Verder is dit nou weer die tyd om saans kontakte te maak vir jou 80 m WAZS-toekenning. Dit is nou as die donderstorms vir jou 'n kans gaan gee.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

27 Oktober – Ope dag by die HMO;
30 November – Sluitingsdatum vir nominasies vir SARL-Raadslede.

Sarlnuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003